Robert Spiller van Tonder - 75 jaar
Robert van Tonder is op 6 Oktober 1923 in Johannesburg gebore. Van moederskant is hy die agter-kleinseun van Prof. Dirk Postma, die stigter van die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. Aan vaderskant is hy die kleinseun en seun van Boere-vryheidsvegters wat geveg het in die Engelse-Oorlog van 1899-1902. Sy familie is Boere wat aktief bygedra het tot die ontwikkeling van die Transvaal sedert 1858. Hy matrikuleer op Helpmekaar Hoërskool en volg daarna `n besigheids loopbaan, totdat hy op 40 jarige ouderdom aftree en sy volle aandag en tyd wy aan die saak van die Boerevolk. Hy was vir 22 jaar getroud met Elna Steyn, tot haar afsterwe in 1973, die gelukkige huwelik het 6 kinders voortgebring. Vir die laaste 18 jaar was hy getroud met Louise Richter, wat die dogter is van Kolonel Karel Richter, wat die persoonlike veiligheids-hoof was vir die Eerste-ministers Smuts, Malan en Verwoerd.
Van 1956 tot 1959 was hy die voorsitter en stigter van die Dorpsraad Aksiekomitee wat verbete geveg het om `n nuwe dorp ten noorde van Johannesburg tot stand te bring. Die stryd het vrugte afgewerp toe Randburg uiteindelik in 1959 gestig is, die stigting was `n direkte resultaat van Robert se leierskap. Die Buitestedelike Raad wat bekend gestaan het as die Peri-Urban, en `n doring in die vlees was van die stigting, het intussen tyd verdwyn, terwyl Randburg tans die 11de grootste munisipale stad in die land geword het, voorwaar die grootste munisipale suksesverhaal hierdie eeu. Robert was die mees Senior leier aan die regterfront vandat hy die NP bedank het, so ver terug as 1961 to Dr. Verwoerd sy massiewe Britse immigrasie program begin het. Reeds in 1963 het hy die Konserwatiewe Studiegroep gestig, die eerste anti-NP weerstands-groepering.
Sy eerste boek "Die Stryd Duur Voort" het in 1966 die lig gesien waarin die agteruitgang van Afrikaans behandel word en die rol wat die NP daarin gespeel het. Die kontroversiële invloed van die boek het o.a. direk gelei tot die stigting van die HNP. Die boek het verskyn 3 jaar voor die stigting van die HNP, 7 jaar voor die stigting van die AWB en 17 jaar voor die stigting van die KP. By die stigting van die HNP was dit Robert wat verantwoordelik was vir die klousule wat bepaal het dat Afrikaans die enigste amptelike taal moet word, dit is toe opgeneem in die HNP se program van beginsels.
Tot vandag toe is Robert bekend as `n geharde vegter vir die Afrikaanse taal en het in die pers algemeen bekend gestaan as die Taalbul. Besighede wat Afrikaans vertrap het, is deur Robert in verskeie sake beveg wat dikwels in die Hooggeregshof gedraai het. In 1977 het sy boek "Boerestaat" vir die eerste keer verskyn. Die boek is tans in sy 12de druk en is al vertaal in Frans, Duits, Nederlands en Engels. Die boek het die Bybel geword van die Boer en Volkstaat gedagtes, en sy voorbeeld is in gewysigde of verwaterde vorm gevolg deur o.a. Die Oranjewerkers (1980), Die Afrikaner Volkswag se "Afrikanerstaat" (1988) en verskeie ander soos die BWB, BVB en die AWB. Selfs die KP en die Vryheidsfront het die filosofie aangeneem. Robert se Boerestaat filosofie het die aangesig van die voormalige "regse" politiek ingrypend verander. Waar dit voorheen gebaseer was op kleur, rassediskriminasie en "wittisme", lê sy gedagtes klem op Volkskap. Die Boerevolk is `n afsonderlike, unieke volk en nie deel van die "Afrikaners" nie. Die Boerevolk veg vir die herstel van sy erfstate, die Boere Republieke en sy volksvryheid net soos baie ander volke in die wêreld.
Hierdie stryd het met kleur en rasse-diskriminasie niks te doen nie. Dit is `n Boere vryheidstryd en nie `n regse stryd nie. Van 1979 tot 1989 was hy die redakteur van Die Stem tot hierdie koerant verban is deur die Afrikaner Regering van P.W. Botha. Hy was ook die skrywer van vyf boeke en een digbundel. Tot onlangs was hy ook die redakteur van die Boerestaat Party se koerant nl. Boerant. Hy het ook gereeld bydraes tot pers, radio en TV oorsigte aangaande die Boer se vryheidstryd van 1899 tot nou gelewer.
Robert was vas oortuig dat die Boerestaat, nl. Die Gekonsolideerde Boere Republieke van Transvaal, Vrystaat en Noord-Natal herstel sal word. Die ANC se RSA is reeds `n mislukking soos ander veelvolkige state in die internasionale wêreld nl. Joegoslawië en die USSR. Die RSA bestaan tans uit 17 verskillende volke en die logiese oplossing is die tot standkoming van 17 vrye state wat ten volle politieke en kulterele onafhanklikheid het, maar wat ekonomies met die buurstate saamwerk, volgens die suksesvolle Europese model.